Posted on

Woordfees bekendstelling van Kwakke, Kwinte en Kwale

Bemagtig jouself met inligting teen kwaksalwery, maan Claassen

Samantha Van Den Berg Donderdag 13 Maart 2014

Kwakke Woordfees foto 2014

Dr. George Claassen, ombudsman en wetenskapjoernalis (middel), gesels met dr. Harris Steinman, gesondheidsaktivis (links), en dr. Edwin Hertzog, stigter en nie-uitvoerende voorsitter van Mediclinic. Claassen se boek is gister by die US Woordfees bekend gestel.Foto: Samantha van den Berg

STELLENBOSCH. – Ons moet ons onsinverklikkers aanskakel en baie meer krities wees oor die aansprake wat oor produkte in advertensies gemaak word.

Só het dr. George Claassen, wetenskapjoernalis en ombudsman van Media24, gisteroggend by die bekendstelling van sy nuwe boek, Kwakke, kwinte en kwale, by die US Woordfees gesê. Claassen se boek handel oor kwaksalwery in Suid-Afrika. Dr. Edwin Hertzog, nie-uitvoerende voorsitter van Mediclinic, en dr. Harris Steinman, ’n gesondheidsaktivis, het aan die boekbespreking in die Boektent deelgeneem. Hertzog het die voorwoord vir die boek geskryf.

Claassen, Steinman en Hertzog was dit eens dat kwaksalwery net bestry kan word as mense hulself met inligting bemagtig.

Suid-Afrikaners moenie net produkte koop en dit propageer nie.

Volgens Hertzog het kwaksalwery en die verkoop van bogprodukte ver gevorder, omdat daar baie geld te maak is. Die Medisynebeheerraad behoort dit meer noukeurig te reguleer.

Steinman het egter aangevoer dat hy al verskeie produkte, wat onder meer beweer dat dit MIV/vigs kan genees, by die beheerraad aangemeld het. Hy het egter nog nie van die raad gehoor nie. “As die beheerraad niks omtrent hierdie produkte doen nie, is ons in die moeilikheid,” het hy gesê.

Claassen het gemaan dat die media ook ’n verantwoordelikheid het om nie kwaksalwery te adverteer nie.

Lesers kan by die ombudsman of die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde oor sulke advertensies kla.

“Jy moet jouself vra of die produk regtig kan werk. Daar is genoeg webwerwe om jouself met inligting te bemagtig,” het hy vervolg.

http://www.dieburger.com/nuus/2014-03-13-bemagtig-jouself-met-inligting-teen-kwaksalwery-maan-claassen