Waaraan ek dink cover S

WAARAAN EK DINK AS EK TERUGDINK

R375.00

Product Description

“Maar die heel beste plek is die plek waar die herinneringe die diepste en dikste lê. Die plek wat die beste is vir terugdink en onthou, vir emosie en nostalgie.”

So skryf Piet Beyers in sy boek oor sy visvang-herinneringe. Of liewer: so skryf Piet in sy boek wat oor soveel meer as net visvangherinneringe gaan. In wat ‘n mens kan noem “die treknet van herinnering” het Piet behalwe visse en see en rotse ook ‘n hele erfenis vasgevang. Oor dekades en geslagte heen praat stemme met jou: uit dagboekinskrywings, fragmente, stories, briewe, gedigte, staaltjies, grappige insidente, avonture, lysies, raad, visvangtogte op soek na die ontwykende… ‘n nuwe vissoort, ‘n unieke er-varing, gewone menslikheid. Dis ‘n boek oor ‘n leefwyse en oor lewenswysheid. Dis ‘n boek oor ‘n seun se grootword en oor ‘n grootmens se nadink. Die magdom foto’s, party daarvan swart en wit kiekies wat reeds begin vervaag, ander kleurryk en skerp in fokus, bestendig op hulle eie manier dit wat vervlietend is, en bevestig die werklikheid en waarheid van ‘n passie en die mense wat dit deel – ook vir die tye wat kom.

“So lank ek kan onthou is ek ‘n visserman. Dis asof dit nooit anders was nie. Asof daar nooit ‘n tyd was wat ek nie wou of kon visvang nie. Dit was maar altyd net so: ek, ‘n visserman.”

AUTHOR: Piet Beyers

ISBN: 978-0620449403

PUBLISHED: 2013

FORMAT: Portrait; 270mmx220mm; Hardback

PAGES: 423

CATEGORY: Sport

Piet Beyers is vandag ‘n sakeman, maar was nog altyd ‘n visserman. Dit kon nie bra anders nie. Sy pa en ma, die medici Andre en lowna Beyers, was albei mateloos lief vir die see en hengel. Piet is in Pretoria gebore, maar Desember het net een dink beteken: see toe, eers na Kleinbrak, daarna Fransmanhoek toe. Skaars groot genoeg om te loop, kry hy sy eerste dipstok en word visvang gou ‘n hartstog. Sy loopbaan begin by die destydse Distillers (vandag Distell), waarop Simba, Cadbury en die reklame-agentskap Lindsay Smithers volg. In 1997 sluit hy hom aan by die Rembrandt-groep aan om mettertyd in onder meer die direksies van Remgo, VenFin, BAT en Richemont dien.