Wat die hart van vol is cover

Wat Die Hart Van Vol Is…

R280.00

AUTHOR Evette Weyers

ISBN9780987002280

PUBLISHED 2012

FORMAT Portrait; 210mm x 270mm; Paperback

PAGES 168

CATEGORY Art

Wat die hart van vol is, is ‘n eiesoortige boek wat nie ingeperk kan word tot ‘n spesifieke genre nie. Dagboek? Nie ‘n kronologiese optekening van daaglikse gebeure of een met “dagstukkies” nie, alhoewel die leser ‘n gerf goue gedagtes uit die verspreide dag- en nagnotas pluk. Reisjoernaal? Nie een wat ‘n spesifieke reis van een plek na ‘n ander beskryf nie, maar wel een gevul met avontuurlike verkennings van natuurlike, mitologiese en kunslandskappe. Lewensverhaal? Geen tradisionele outobiografie nie, maar die viering van ‘n lewe en die mense wat dit op magies-realistiese wyse medevorm. Kunstenaarskredo? Nie die soort akademiese nadenking oor die kunstenaarsproses wat ‘n tuiste vind in deftige katalogusse of oorsigwerke nie, maar wel ‘n rondleiding in die kunstenaar se kreatiewe werkswinkel.

Die boek ontgin die gevoelens, gedagtes en temas wat die beeldhouer se kleireis na beelde rig. Hierdie reis is ‘n labirint van skeppende, speelse en koddige glipgange tussen feit en fiksie, mitologie, teater (van die natuur en die kosmos, die geskiedenis en die verhoog), letterkunde, musiek en die oorsprong van woorde.

– Francis Galloway

Evette Weyers is langs die see gebore en “grootgemaak om liggies op die aarde te trap”. Sy is diep betrokke by natuur- en seebewaring en het ‘n passie vir die kunste. Sy het ‘n BA-graad in Wiskunde, Engels en Sielkunde en ‘n diploma in kuns.

Haar kunswerke is oor die afgelope ses en dertig jaar in Suid-Afrika, die V.S.A., Holland, Duitsland en Singapoer uitgestal. Haar beeld, Die vrou wat vrede droom, staan op ‘n vredesmonument in THE GARDEN OF US (internasionale versoenings- en vredetuin) in Hirosjima, Japan.

Evette was in 1986 wenner van die Corobrick Nasionale Uitstalling in S.A. Sy het ook twee beeldhoupryse in Los Angeles, V.S.A., gewen. Sy woon saam met haar man, die akteur Marius Weyers, in die Kogelberg biosfeer.

 

Category: